Mosselbaai
Geen Haas. Geen Kommer.
Die Tuinroete
Hierdie is die mees ongewone hoekie van Afrika en dit is die natuur se tuin – vandaar die naam ‘Tuinroete’.
Die presiese grense van die gebied is nie afgebaken nie, maar strek langs die suidelike kus oos van Kaapstad tot effe wes van Port Elizabeth – en Mosselbaai lê reg in die middel (presies halfpad tussen Kaapstad en Port Elizabeth).
Terwyl almal stry oor die wes- en oosgrens van die Tuinroete, stem ons saam oor die noord- en suidgrens – die Kaapse Plooiberge in die noorde en die warm, helder water van die Indiese Oseaan in die suide.
Tussen die berge en die see is die Tuinroete, Suid-Afrika se gunstelingvakansiebestemming – en Mosselbaai is die ideale basis waarvandaan dit ontdek kan word.
Die Klein Karoo
Die Klein Karoo is ‘n betowerende halfdorre streek noord van die Outeniquaberge. Die hoofstad, Oudtshoorn, lê ongeveer 95 km vanaf Mosselbaai.
ONTDEK DIE TUINROETE
GEORGE & KNYSNA Volg die R102 tot by George; draai links by die T-aansluiting in Yorkstraat (George-sentraal). Hou by die volgende T-aansluiting stil en besoek die George-museum (die geskiedenis van die Knysna-bosse). Volg nou die Knysna-pad na die Outeniqua-erfenismuseum (vervoer, stoomtreine en die vertrekpunt van die Outeniqua Choo-Tjoe – die land se laaste geskeduleerde stoomtreindiens, wat kuslangs tot by Hartenbos loop).
Volg die Knysna-pad tot op die N2 na Wilderness en die Wilderness Nasionale Park (voëlkyk, staptogte en strande). Reis verder deur Sedgefield tot by Knysna vir ‘n bootvaart op die Knysna-strandmeer of om die winkels en kunsgalerye aan die strandfront te besoek. Keer met die N2 na Mosselbaai terug.
PLETTENBERGBAAI & TSITSIKAMMA
Ry ooswaarts (na George) met die N2 langs en daarna deur die Kaaimanspas tot by Wilderness. Ry verder na Sedgefield en Knysna. Ongeveer 30 km anderkant Knysna, draai regs na Plettenbergbaai – speelplek van die rykes en beroemdes (die dorp het ‘n aantal wildreservate en nie minder nie as 15 natuurreservate, waarvan sommige wildtoere bied).
Ry verder met die N2 langs na Stormsrivierdorp vir u volgende avontuurervaring (bostoere, abseil, bergfietsry, ens.) en die unieke mariene reservaat in die Tsitsikamma Nasionale Park (probeer gerus die onderwater-snorkelpad indien toestande dit toelaat). Keer met die N2 langs na Mosselbaai terug.
WITSAND & MALGAS
Die gebied wes van Mosselbaai is een van die mees uniekste streke van die Kaapse Blommerykdom en bied aansienlike buitelugavontureaktiwiteite. Dit is uiters gunstig gelee vir Walvisbesigtiging. Ry met die N2 langs in die rigting van Kaapstad en stop by die Gouritzrivierbrug vir ‘bungi’-spring of brugswaai.
Ry verder na Albertinia en besoek ‘n aalwynfabriek (kosmetiese, medisinale en kosprodukte). Ry verby Swellendam en draai links op die R319 in die rigting van Bredasdorp. Draai weer daarna links na Malgas en kruis die Breërivier op Suid-Afrika se laaste handgedrewe pont. Draai nou regs op die R324 na Witsand en San Sebastiaan-baai, waar soveel as ‘n honderd suider-noordkapers op een dag in seisoen (Junie tot September) gesien kan word.
Keer terug na Mosselbaai met die R322 en die N2 langs oor Heidelberg, Riversdal en Albertinia.
ONTDEK DIE KLEIN KAROO
ONTDEK DIE KLEIN KAROO
Ry met die R328 langs oor die Robinsonpas na Oudtshoorn. Besoek die Kangogrotte, ‘n volstruis-vertoonplaas en die boeiende CP Nel-museum (vervoer, geologie, paleontologie, musiekinstrumente en plaaslike geskiedenis).
Vanaf Oudtshoorn volg die roete na ry oor De Rust en deur Meiringspoort – ‘n natuurlike insnyding in die Swartbergreeks. Draai links op die R407 en volg die noordelike hange van die Swartbergreeks tot by die rustige dorpie Prince Albert.
Keer terug na Oudtshoorn oor die Swartbergpas (‘n grondpad) en verlaat die Klein Karoo oor die Outeniqua-pas tot by George. Volg uiteindelik die N2 terug Mosselbaai toe.
THE KLEIN KAROO WINE ROUTE
Ry weswaarts (in die rigting van Kaapstad) met die N2. langs. Draai regs op die R327 na Herbertsdale en die Die Poort-wynkelder. Keer terug na die N2 toe en ry oor Albertinia en sit u reis voort na Riversdal. Draai regs op die R323 (die Garcia-pas) en weer regs by die T-aansluiting met op die R62 – die Wêreld se Langste Wynroete.
Besoek die Koöperasie op Ladismith en ry oor Amalienstein na Calitzdorp, Suid-Afrika se Portwyn-hoofstad (De Krans- en Boplaas-landgoed en Calitzdorp-Koöp). Ry verder met die R62 langs tot by Oudtshoorn (Grundheim- en Kango-landgoed) en ry verder met die N12 na De Rust (Domien-, Doornkraal- en Mons Ruber-landgoed).
Keer terug Mosselbaai toe met die R328 langs – die pragtige Robinson-pas















Loading...