Mosselbaai
Geen Haas. Geen Kommer.


Besoek die Munisipaliteit Mosselbaai se amptelike webblad by www.mosselbaymun.co.za

Geleë op ‘n pragtige sondeurdrenkte skiereiland en omring deur die warm Indiese Oseaan, kan die geskiedkundige Mosselbaai spog met een van die mees gematigde klimaat ter wêreld. Meer as 50 kilometer se strande maak Mosselbaai ‘n gesogte vakansiebestemming en ideale toevlugsoord op die wêreldbekende Tuinroete in Suid-Afrika.

Die ligging halfpad tussen die stede Kaapstad en Port Elizabeth en 40 kilometer vanaf George se lughawe, vergemaklik die bereikbaarheid van Mosselbaai per lug, spoor, pad en see.

Volgens oorlewering was die Mosselbaai-omgewing bewoon deur die Gouriqua, ‘n inheemse Khoikhoi-stam wat hoofsaaklik vee-eienaars was, en die Khoisan-nasie, wat hoofsaaklik jagters was.

Op 3 Februarie 1488 het die Portugese seevaarder, Bartolomeus Dias, en sy bemanning egter as die eerste Europeërs in Mosselbaai op Suid-Afrikaanse grond voet aan wal gesit, en onwetend ‘n proses aan die gang gesit om die huidige Suid-Afrika met sy ryk etniese verskeidenheid ‘n werklikheid te maak.

Vandag is Mosselbaai ‘n opwindende en bedrywige dorp wat spog met ‘n moderne vissershawe en ‘n steeds groeiende handel- en nywerheidsentrum. Die dorp is ook bekend vir ‘n verskeidenheid geskiedkundige plekke, geboue en museums en ‘n groot verskeidenheid sport en buitelugvermaak. ‘n Kampioenskapsgholfbaan met twee nuwe bane wat tans ontwikkel word, ‘n casino asook die beskikbaarheid van moderne en gerieflike akkommodasiefasiliteite en ‘n verskeidenheid uitmuntende restaurante dra by tot ‘n aangename verblyf in Mosselbaai.

Die Munisipaliteit Mosselbaai se webblad www.mosselbaymun.co.za verskaf ‘n insig in die dorp en sy sake en ‘n diens aan ons inwoners en besoekers. Ons vertrou u sal dit insiggewend en nuttig vind en dat dit u sal inspireer om Mosselbaai self te kom ervaar.