Mossel Bay.
Do stuff
2011 Diasfees: Organiseerders uitgenooi om deel te neem
Wednesday, August 25th, 2010Mediavrystelling: 25 Augustus 2010. Mosselbaai Toerisme
2011 Diasfees: Organiseerders uitgenooi om deel te neem
Volgende jaar se Diasfees sal van 3 tot 6 Februarie plaasvind – en organiseerders wat sportbyeenkomste, kulturele aanbiedings of vermaaklikheid wil aanbied word genooi om vir die program te registreer.
“Die Dias-museum en Mosselbaai Toerisme sal die 2011 Diasfees koordineer maar ons sal nie die individuele items organiseer nie,” sê Dias-museum kompleksbestuurder Mbulelo Mrubata.
“Ons hoop dat sportklubs en kultuurorganisasies, asook profesionele geleentheidsorganiseerders en individuele besighede soos restaurante en hotelle, met hulle eie idees vorendag sal kom en dan hulle items aan die fees sal verbind.
“Die Suid-Afrikaanse Vloot het reeds aangedui dat vaartuie en die vlootorkes na Mosselbaai gestuur sal word. Hulle binnekoms in die hawe op 3 Februarie – dieselfde datum waarop Dias hier in 1488 aangeland het – sal die fees open,” sê hy.
Mosselbaai Toerisme se Marcia Holm het die hoop uitgespreek dat verskeie fees-items regoor die groter Mosselbaai-gebied sal plaasvind.
“Ons hoop dat daar teater en konserte sal wees – en veral jazz-konserte – asook dans en kunsuitstallings, en sportbyeenkomste soos sokkertoernooie, padwedlope, veldlope, krieket en miskien ‘touch rugby’ en vlugbal.
“Ons gaan die Portugese en Maleisiese ambassades nooi om afvaardigings te stuur en plaaslike restaurante sal aangemoedig word om spesiale Maleise en Portugese spyskaarte aan te bied, terwyl hotelle gevra is om dinge soos kosfeeste, wynproe en kos-en-wynparings aan te bied,” sê sy.
“Dit is baie belangrik dat die Diasfees elke deel van die gemeenskap bereik, en daarom, alhoewel die museum die offisiële sentrum van die fees sal wees, ons beslis ook skole en klubs sal aanmoedig om hulle eie items op hulle eie gronde aan te bied. Ons verwag egter dat hulle alle vergaderings van die Gesamentlike Organiseerderskomitee bywoon sodat datums, tye en belangrike vrae oor gemeenskapsveiligheid en sekuriteit bespreek kan word.”
Mnr. Mrubata sê dat die Vriende van die Museum ‘n aand van opera-arias beplan, en dat die museumgronde die basis van die Onafhanklike Entrepreneurs se handwerk- en kosstalletjies sal wees.
“Ons is ook oop vir ander idees vir die amfiteater, die maritieme museum en die opleidingsentrum in die ou graanskuur (Granary),” sê hy.
Die volgende vergadering van die fees se Gemeenskaplike Organiseerderskomitee sal by die Dias-museum op 31 Augustus om 10h00 plaasvind.
Organiseerders en klubverteenwoordigers word genooi om hulle items vir die fees by Louma Jansen by Mosselbaai Toerisme te registreer – telefoonnommer 044 691 2202 of e-pos info@visitmosselbay.co.za
EINDE 464 WOORDE
Tags: 2011, dias fees, dias museum, mosselbaai
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.
















Loading...
Download our Self Catering Brochure
View our Self Catering Members