Mossel Bay
No Hurry. No Worries
Mosselbaai verower Wes-Kaap nominasie in Suid-Afrika se Dorp van die Jaar Kompetisie
Monday, July 12th, 2010Mediavrystelling: 12 Julie 2010. Mosselbaai Toerisme
Mosselbaai verower Wes-Kaap nominasie in Suid-Afrika se Dorp van die Jaar Kompetisie
Mosselbaai – wat die provinsie se Dorp van die Jaar titel in 2007 gewen het – is aangewys as die Wes-Kaap se kandidaat vir Rapport en Kwêla se nasionale Dorp van die Jaar Kompetisie vir 2010.
Die nominasie is in gister (Sondag) se landwye uitgawe van Rapport aangekondig.
“Ons is besonders trots op hierdie nominasie omdat die mense van Suid-Afrika die beoordelaars in hierdie kompetisie is,” sê mnr. Neels Zietsman, voorsitter van Mosselbaai Toerisme.
“Mosselbaai het nog altyd ‘n spesiale plek in die harte van baie Suid-Afrikaners gehad, en ons hoop dat dit sal deurkom wanneer die volgende rondte van die verkiesing eerskomende Sondag begin.”
Mnr. Zietsman sê dat die kombinasie van kultuur, omgewing, infrastruktuur en ‘n wye verskeidenheid attraksies en aktiwiteite Mosselbaai by inwoners, vakansiegangers, oorsese toeriste en beleggers gewild maak.
“Ek is seker dit sal so oor kom wanneer Kwêla die dorp eerskomende Woensdag op kykNET in die kollig plaas,” sê hy.
Mnr. Zietsman het die ander agt kandidate in die kompetisie geluk gewens – Heidelberg in Gauteng, St Lucia in KwaZulu-Natal, Thabazimbi in Limpopo, Wakkerstroom in Mpumalanga, Potchefstroom in die Noord-Wes Provinsie, Springbok in die Noord-Kaap, Graaff Reinet in die Oos-Kaap, en Clarens in die Vrystaat – en hulle sterkte toegewens.
“In baie wyses is hierdie dorpe reeds almal wenners want, soos Mosselbaai, dra hulle reeds grotendeels tot toerisme in hulle onderskeie provinsies by,” sê hy.
“En terwyl ons almal natuurlik ons beste gaan doen om die prys te wen, is ons trots om saam met hierdie besondere bestemmings gelys te word.”
Hetta Saunderson van die kompetisie-organiseerders, M4 Events and Promotions, sê dat Kwêla en Rapport al die finaliste besoek het voordat die aankondiging van elke provinsie se kandidaat gemaak is, en dat elke kandidaat in Rapport en op nasionale televisie tentoongestel is.
“Ons wil vir almal weereens BAIE dankie sê vir die ongelooflike ontvangs en almal se gasvryheid. Ons het net weer besef dat Suid-Afrika verseker die mooiste en gasvryste mense het. Elke dorp wat ons besoek het, het iets van sy eie wat dit uniek maak. Mense in Suid-Afrika moet eers die moeite doen om ons eie land se skoonheid te ervaar voordat hulle oorsese vakansies beplan,” sê sy.
Die program oor Kwêla se besoek aan Mosselbaai sal eerskomende Woensdagaand 20h00 op kykNet uitgesaai word. Die publiek sal kan stem vir die land se Dorp van die Jaar tussen 18 Julie en 12h00 op 30 Julie, en die wen-dorp sal in Augustus aangekondig word.
Die borge sal onder andere ‘n konsert vir die mense van die Dorp van die Jaar hou wat kunstenaars soos Theuns Jordaan, Snotkop, Nadine, Andriette Norman, Coenie de Villiers, Pieter Koen en Lee Scott sal insluit.
“Ek hoop regtig dat ons weer hierdie jaar daardie konsert in Mosselbaai gaan sien,” sê Mnr. Zietsman.
EINDE
Tags: mosselbaai; kwela; dorp van die jaar; rapport
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.


















Download our Self Catering Poster
View our Self Catering Members